Sunday 17 July 2011

'n Vader se liefde

Ek het altyd gehoor dat dogtertjies pa se kinders is, en nou beleef ek dit persoonlik. Hoe ouer sy word  hoe liewer word hy vir haar. Elke dag ‘n bietjie meer. Pa se meisiekind. Dit help nogals dat Marli baie na hom lyk.
Dit is so lekker om te sien hoe Marli se gesiggie ophelder as hy in die oggende vir haar groet, asook elke ander keer wat sy hom sien. Glimlag van oor tot oor sodat jy die dimpels kan sien. As Collin in die omtrek is, het sy net oë vir hom.
Collin gaan laai haar in die oggende af by die dagmoeder en hy gaan laai haar gewoontlik in die aande op voordat hy my oplaai. As ek uitkom, sit hy in die motor  vir my en wag, met haar op sy skoot en sy maak of sy die motor ry (Pa se klein renjaertjie). As ons haar saam gaan oplaai, moet ek soms hardloop om eerste daar te kom as ek haar bietjie wil houvas. Dit is so snaaks om te sien hoe ons twee in gehardloop kom, en ek nogals op my hoë hakke. Ouma Truter sê sy geniet dit om te sien hoe broeis Collin oor sy meisiekind is.
Ek het nie probleme om Collin te vra om te help opstaan en vir Marli bottle gee nie. Hy doen dit met liefde. Elke tweede aand is sy beurt. As ons kerk toe gaan, en Marli is nukkerig oor sy wil slaap, staan hy enige tyd op en gaan loop met haar ‘n draai todat sy slaap.
Nie eens te praat van as ons winkel toe gaan nie. Collin stoot vir Marli en ek moet maar die mandjie stoot. Hy is baie erg oor sy meisiekind.
Ek is tog te dankbaar dat my man sy dogtertjie liefhet soos ek haar liefhet en dat hy so ‘n hulpsame pappa is. Ek kan met ‘n geruste hart vir Marli by hom los en weet sy sal in goeie hande wees.
Dankie Collin vir jou liefde en bystand. Dankie dat jy so ‘n goeie man en goeie pa vir ons dogtertjie is. Ek is seker Marli gaan groot word om baie erg oor haar pa te wees, ek sien dit nou al. Ons is baie life vir jou!

No comments:

Post a Comment