Friday 9 December 2011

Marli en Isabella verjaar saam

Marli het ‘n maaitjie by die skool, Isabella, wat net so oud is soos sy, maar min het ons geweet hulle verjaar op presies dieselfde dag.
Een middag toe ek Marli gaan oplaai het, het ek en Isabella se ouma aan die gesels geraak en gepraat van die verjaarsdae wat opkom en dit is daar waar ek toe uitvind hulle is op dieselfde dag gebore, in dieselfde hospitaal en nou gaan hulle nog na dieselfde skool ook, en ons was nooit bewus daarvan nie. Bella was die oggend gebore en  Maril die middag.
Wel, ek het toe Bella se mamma ontmoet en ons het gepraat om vir hulle twee ‘n partytjie saam te hou by die skool op die dag van hulle verjaardag. Ons het sommer een Sondag oor ‘n braai mekaar behoorlik leer ken en toe die middag geneem om al die goedjies vir die partyjie te maak. Wat ‘n lekker span poging was dit nie.
En toe breek die groot dag aan, ons pragtige engeltjies word toe een jaar oud. Ek het baie laat nog staan en koek bak vir die skool partytjie, en toe ek bed toe gaan, het ek aan haar geraak daar waar sy so vas lê en slaap, en met trane in my oë, haar geluk gewens met die verjaardag. My hart was nie bly nie. Dit het hopeloos te vinnig verby gegaan. Nou is die baba ‘n klein dogtertjie. Maar vreugde bring sy nogsteeds in ons huis, en daarvoor is ek altyd dankbaar vir my pragtige kind.
Gelukkige verjaardag my skat. Ma bid vir jou wysheid toe, vir goeie en regte besluite in jou lewe, geluk, mag die Here die seer in die lewe so vêr moontlik van jou af weghou, wysheid vir ons as ouers, sodat ons jou reg sal grootmaak en liefde in oorvloed, mag jy nooit nikswerd voel nie.

No comments:

Post a Comment