Friday 11 May 2012

Plaasjapie

Ek en Marli het verlede naweek saam met die Von Hörsten familie na 'n plaas by die Cederberge gegaan. Collin kon ongelukkig dit nie maak nie, weens baie werk en hy moes preek daardie naweek ook nog. Maar ek en Marli laat ons nie 2 keer nooi om bietjie weg te breek vir 'n naweek nie, so ons het maar ons tassies gepak en geklim.

Dit was omtrent 4 ure se ry tot op die plaas, maar met die opgewondenheid oor die naweek en die mooi landskappe oppad daarheen, het mens dit nie eintlik agtergekom nie. Marli het my so trots gehad, want sy was so soet in die motor. Letterlik en figuurlik, want sy het omtrent al Oom Hein se "Liquorice Allsorts" op geëet.

By die plaas aangekom, staan daar die mooiste plaas huisie, en die skapies wei daar in die veld rond. My klein plaasjapie het dadelik die hele wêreld verken. 


Marli het vir haar 'n stokkie opgetel en oral rond gehardloop en skape gejaag ook. Ek kon sien dat sy die naweek inderdaad sou geniet.













Na ete het ek gou vir Marli gebad en heerlik warm aangetrek en toe is sy reguit na haar "Kaapse Oupa" toe, Oom Hein, dat hy vir haar Bybelstories kon lees. Sy geniet tog die aandag so.

Saterdagoggend was daar nie tyd vir laat slaap nie, die veld het geroep. Ons is toe met 'n 4x4 bakkie uitgeneem na 'n ander gedeelte van die plaas waar daar staproetes is wat 'n mens kan doen. Andrew het aangebried om so braaf te wees en vir Marli te dra in die rug-sak. 

Op hierdie roetes was daar baie boeman-tekeninge wat mens kon beskou asook vreeslik interressante historiese plekkies, soos die huisie van die Visser familie wat hulle hier op die plaas kom huisves het in die rotsberge, met slegs 'n paar skape. Moeilik om te glo hier het een op 'n tyd mense gewoon. Dit moes vreeslike swaar jare gewees het. Ek sou nie so kon bly in 'n 'een-vertrek klipmuur huisie' met geen bad-en toiletgeriewe nie. Wat nog te praat van sonder elektrisiteit. 


Ek, Marli en Imaelda het toe nie die res van die staproetes gaan stap nie. Ek het gevoel dit sou te lank en te moeilik vir Marli word en het eerder terug gegaan na die grot waar ons vir die middag sou kampeer. Daar het Marli omtrent die hele wêreld verken. Op en af, heen en weer, in die sand en in die veld. Ek het haar maar gelos om net 'kind' te wees vir die dag. Maak nie saak hoe vuil sy geword het nie. Ek was net te dankbaar dat ek weer haar "gumboots" vir haar aangetrek het. En na al die speel het sy vir 2 ure heerlik snoesig gelaap in Tannie Imelda se kombersie daar in die veld.


Die Cederberg wêreld het my baie aan Namibië laat dink, en so in my stilligheid het ek begin huis toe verlang na my familie en ons mooi land.


Sondag het ons rustig op die plaas spandeer en stadigaan begin oppak om die pad terug Kaap toe aan te vat. Die naweek was nou amper weer verby.

Soms het mens bietjie nodig om weg te breek na die natuur, om na die stilte om ons te luister en God se handewerk te waardeer. Om bietjie terug te staan van ons elke dag se jaag-lewens en aandag gee op dit wat belangrik. Ons familie en vriende. Ons verhoudings met mekaar. 


Dankie aan Oom Hein en Tannie Maryna, dat jul ons saam genooi het. Ons het dit baie geniet.

No comments:

Post a Comment