Tuesday 29 May 2012

Die volgende groot SUPERSTER!

Marli is verskriklik oulik deesdae met sing en dans. Die TV leer haar goed. Sy is mal oor haar "Oom Karoolus en Lente DVD" en naboots graag die kindertjies as hulle die bewegings saam maak. Ook is sy baie lief vir die bybel liedjie "Noag het 'n ark gebou" en is een van haar gunstelinge om te sing.
Ek moes maar net hierdie video met julle deel.  Geniet!


Monday 21 May 2012

Hier kom die bruid!

Maandag, 30 April 2012. Dit was 'n tipiese koue winter-dag in die Kaap. Die lug was grys met die rëenwolke wat die hemel deurtrek het. Maar in 2 mensies se harte was dit warm daai dag. Liefde oorwin die als, selfs die koue. Dit was die troudag van Heinrich en Claire. Twee pragtige, dierbare jong mense. 


Marli was bevoorreg om een van hul blommemeisies te wees. Wel, Claire het so besluit toe Marli nog net 4 maande oud was, en daai dag het dit net so gebeur ook.

Ek het heeltyd net gebid dat Marli net sal doen wat van haar verwag word, en dankbaar het die Here my gebed beantwoord. Marli het baie mooi en rustig saam met Rachel en Emily die gangetjie kom afstap. Dit was PRAGTIG, en soos hulle af gekom het kon jy net die glimlagte op die mense se gesigte sien en die ouer mense wat "ooh" en "aah" van agter af. Sy het haar ma se hart baie trots gemaak daai dag. Wie sou kon dink omtrent 4 jaar terug was dit ek en Collin wat die trou aan mekaar beloof het en hier stap ons baba-dogtertjie die gang af by ander se troue. Die tyd het darem vinnig verby gegaan.


Die diens was bitter mooi gewees, gely deur Lr. Hein von Hörsten. Tussen die diens en die spesiale item, het dit 'n knop in die keel veroorsaak. Baie spesiaal.

Die onthaal was net so mooi en spesiaal. Klein en intiem. Nog nooit het ek soveel mense sien huil op 'n pa en dogter dans nie. Mens kon sien dat hulle 'n baie goeie en mooi verhouding het. NAtuurlik het die lied "Butterfly kisses" die trane aangehelp. Al het ons uit gerëen, was die glimlag op die bruid se gesig als die moeite werd. Solank die dag vir haar en Heinrich spesiaal was. Dit was my hoop en gebed, en daai glimlag op haar gesig was soos hulle altyd sê "priceless".


Aan die nuwe Mnr en Mev von Hörsten, wil ek net dankie sê vir die voorreg dat Marli kon deel wees van hulle mooi dag en wil ek ook dankie sê vir hul vriendskap, liefde en omgee. Mag die Here hul huwelik ryklik sëen en baie jare se mooi herhinneringe hul nog inwag. 



Friday 11 May 2012

Plaasjapie

Ek en Marli het verlede naweek saam met die Von Hörsten familie na 'n plaas by die Cederberge gegaan. Collin kon ongelukkig dit nie maak nie, weens baie werk en hy moes preek daardie naweek ook nog. Maar ek en Marli laat ons nie 2 keer nooi om bietjie weg te breek vir 'n naweek nie, so ons het maar ons tassies gepak en geklim.

Dit was omtrent 4 ure se ry tot op die plaas, maar met die opgewondenheid oor die naweek en die mooi landskappe oppad daarheen, het mens dit nie eintlik agtergekom nie. Marli het my so trots gehad, want sy was so soet in die motor. Letterlik en figuurlik, want sy het omtrent al Oom Hein se "Liquorice Allsorts" op geëet.

By die plaas aangekom, staan daar die mooiste plaas huisie, en die skapies wei daar in die veld rond. My klein plaasjapie het dadelik die hele wêreld verken. 


Marli het vir haar 'n stokkie opgetel en oral rond gehardloop en skape gejaag ook. Ek kon sien dat sy die naweek inderdaad sou geniet.













Na ete het ek gou vir Marli gebad en heerlik warm aangetrek en toe is sy reguit na haar "Kaapse Oupa" toe, Oom Hein, dat hy vir haar Bybelstories kon lees. Sy geniet tog die aandag so.

Saterdagoggend was daar nie tyd vir laat slaap nie, die veld het geroep. Ons is toe met 'n 4x4 bakkie uitgeneem na 'n ander gedeelte van die plaas waar daar staproetes is wat 'n mens kan doen. Andrew het aangebried om so braaf te wees en vir Marli te dra in die rug-sak. 

Op hierdie roetes was daar baie boeman-tekeninge wat mens kon beskou asook vreeslik interressante historiese plekkies, soos die huisie van die Visser familie wat hulle hier op die plaas kom huisves het in die rotsberge, met slegs 'n paar skape. Moeilik om te glo hier het een op 'n tyd mense gewoon. Dit moes vreeslike swaar jare gewees het. Ek sou nie so kon bly in 'n 'een-vertrek klipmuur huisie' met geen bad-en toiletgeriewe nie. Wat nog te praat van sonder elektrisiteit. 


Ek, Marli en Imaelda het toe nie die res van die staproetes gaan stap nie. Ek het gevoel dit sou te lank en te moeilik vir Marli word en het eerder terug gegaan na die grot waar ons vir die middag sou kampeer. Daar het Marli omtrent die hele wêreld verken. Op en af, heen en weer, in die sand en in die veld. Ek het haar maar gelos om net 'kind' te wees vir die dag. Maak nie saak hoe vuil sy geword het nie. Ek was net te dankbaar dat ek weer haar "gumboots" vir haar aangetrek het. En na al die speel het sy vir 2 ure heerlik snoesig gelaap in Tannie Imelda se kombersie daar in die veld.


Die Cederberg wêreld het my baie aan Namibië laat dink, en so in my stilligheid het ek begin huis toe verlang na my familie en ons mooi land.


Sondag het ons rustig op die plaas spandeer en stadigaan begin oppak om die pad terug Kaap toe aan te vat. Die naweek was nou amper weer verby.

Soms het mens bietjie nodig om weg te breek na die natuur, om na die stilte om ons te luister en God se handewerk te waardeer. Om bietjie terug te staan van ons elke dag se jaag-lewens en aandag gee op dit wat belangrik. Ons familie en vriende. Ons verhoudings met mekaar. 


Dankie aan Oom Hein en Tannie Maryna, dat jul ons saam genooi het. Ons het dit baie geniet.

Thursday 3 May 2012

Spitter Spitter Spat!

Die winter is offisiëel in die Kaap, en saam met die winter kom die rëen. So, ek kon dit net nie weerstaan om vir Marli "gumboots" te koop nie. En dit was ook 'n goeie idee gewees, want toe Marli die waterpoelietjies sien, wou sy net met alle mag daarin. Nou ja, toe trek ons maar vir "gumboots" aan en sy het haar gate uit geniet in die water. Heen en weer gestap daarin, klippies gegooi daarin en wat nog meer. Kan ons nie ook soos kinders, soms net die basiese goedjies in die lewe geniet nie.

Nou sien ek baie uit na die naweek in die Cederberge saam met die Von Hörsten-familie, om te sien hoe Marli die naweek in die natuur gaan geniet. Sal maar vir "Gumboots" saamvat, net ingeval die werêld vol waterpoele lê.