Tuesday 19 April 2011

Die wonderlikste dag van my lewe

17 November 2010. Die dag toe ons klein engeltjie haar verskyning gemaak het. Ek kan nou nog nie glo hoe rustig ek daai dag was nie, al was ek in pyn. Marli is 11h42 gebore deur 'n keisersnee. Dr. Brink het met my gegrap en gevra "Jy wou mos 'n dogter gehad het?"... Vir 'n oomblik was ek gestres, wat as dit nie is nie? Die volgende oomblik hou hy my baba in die lug. Ek kyk net om te sien wat die geslag is, en dankie tog, dit is my meisiekind waarvoor ek so hard gebid het. Hulle bring haar na my, toegedraai in 'n wit handoek. Ek onthou toe 'n vriendin se woorde... "as jy daai mensie sien, en al is daai gesiggie opgeswel en die oë pof, is dit vir jou die mooiste dingetjie wat jy nog gesien het", en sy was reg. Daai aand toe almal weg was en net ek en Marli in die kamer lê, het ek haar uit haar mandjie uit getel en in my bed in. Sy moes hier teen my slaap. Ek het 9 maande gewag vir hierdie dag en nou wil ek haar by my hê. Ek het na haar gelê en staar en kon nog nie glo dat dit my kind was nie. Sy was so mooi en so perfek. Van die klein gesiggie met sy klein oë, neus en mondjie, af tot by die klein toontjies wat so lekker omkrul. Ek het in trane uit gebars en die Here gedank vir hierdie pragtige kind wat hy my gegee het. Hierdie was die wonderlikste dag van my lewe.

1 comment:

  1. Jong, ek raak so nostalgies as ek jou ervaring lees. Kian is 18jaar gelede gebore en hy was ook my baba wat langs my geslapies het. Nou is hy Ma se groot seun, ene arms, bene en voete.
    Geniet jou meisiekind.

    ReplyDelete