Wednesday 20 April 2011

Marli se eerste dag skool toe


1 Maart 2011. My verjaarsdag en eerste dag van werk na 4 maande se kraamverlof. Toe ek die oggend my oë oop maak, toe is ek al huilerig. My mooie Marli moet vandag na haar dagmoeder (Puddle Duck) toe gaan. Ek is so gewoond om haar om my te hê heeldag, dat dit net nie vir my reg voel dat ek haar eers 9 ure later gaan sien nie. Dis nie regverdig nie. Hulle gaan nou al die mooi van haar kry. Sy word omtrent eers wakker teen die tyd dat ons moet ry, en wanneer ons haar gaan haal, dan is dit amper alweer bad en slaap tyd. Ek gaan nie meer die voorreg he om my eie kind groot te maak nie. Arme Marli, sal sy verstaan wat aangaan. Hoekom daar nou ewe skielik ander tannies na haar kyk deur die dag? Waar is haar ma? En ek dink: "Sal hulle haar vertroetel en oppas soos ek sou? Sal hulle haar optel as sy huil? Sal hulle geduld hê met haar? Sal dit goed gaan met my kind?" Marli het ook geweier om enigsins bottel by my te aanvaar, so dit sou ook die dag wees dat hulle haar op die bottel probeer kry. Ek het net gebid en hoop dit sal goed gaan. Dat Marli nie te lank sou huil of dors ly voordat sy die bottel aanvaar nie. 

Dit was niks lekker om my baba daar af te gee nie. Veral nie toe ek haar hoor huil toe ons uitstap nie. Ek moes maar net omdraai en loop, andersins sou ek nie daar wou weg gaan nie. Collin het bestuur, want ek het die hele pad van daar tot by die werk gehuil. Selfs by die werk, toe ek instap, was hulle al besig met Godsdiens en ek plaas my toe op 'n stoel eenkant neer en staar weg van hulle af by 'n venster uit terwyl die trane soos riviere by my wange af loop. Hoe sou ek ooit hierdie dag deurmaak. Natuurlik was my konsentrasie nie by die werk daai dag nie, eerder het ek die minute af getel todat ons haar kon gaan haal. Collin sou my 5 uur kom oplaai. 5 Uur het gekom en toe ek by die motor inklim, toe se ek vir Collin dat dit net nie reg voel om haar motor-stoeltjie te sien en sy is nie daar nie. Collin wys net sy oë na agter en toe ek omkyk, sien ek haar tone uitsteek by die stoel. MY KIND!!! Ek storm om en pluk die agter deur oop en soen haar op en af terwyl die trane van voor af oor my wange vloei, maar die keer van blydskap. 
Dit het gelukkig by die dag makliker geword om vir Marli te laat gaan, alhoewel ek haar maar nogsteeds baie verlang deur die dag. Veral as ek na haar foto staar op my lessenaar. Marli het uiteindelik na 'n week se geduldige aandag die bottel aanvaar as metode van voeding. Maar sy is nie dom nie hoor! Sy aanvaar die bottel by die dagmoeder, maar by die huis soek sy haar ma en niks anders nie. Klein, klein al veels te slim.

Tuesday 19 April 2011

Ek wens ek kon my deur jou oë sien!

Dis 6 uur. My wekker het af gegaan. Marli word toe ook wakker hier waar sy langs my in die bed lê na ek haar laas gevoer het en besluit het om haar nog so bietjie by my te hou voor ek nou nou moet opstaan. Dis donker buite, maar lig genoeg dat ek kan sien hoe sy na my staar. Ek sit die bedlampie aan, en hier lê hierdie gesiggie met die dik geslaapte oë langs my. Haar vars baba asempie op my gesig. Daai mooi gesiggie, ek wil haar net heeltyd teen my vashou en haar op soen. Sy gee  my 'n grin en begin met haar uitgestrekte armpie en met haar handjie oor my gesig streel terwyl sy stip na my staar en ek lê en dink, wat sien sy as sy so na my staar? Wat dink sy? Is sy so lief vir my as wat ek vir haar is?... Ek wens ek kon my deur haar oë sien!







Die wonderlikste dag van my lewe

17 November 2010. Die dag toe ons klein engeltjie haar verskyning gemaak het. Ek kan nou nog nie glo hoe rustig ek daai dag was nie, al was ek in pyn. Marli is 11h42 gebore deur 'n keisersnee. Dr. Brink het met my gegrap en gevra "Jy wou mos 'n dogter gehad het?"... Vir 'n oomblik was ek gestres, wat as dit nie is nie? Die volgende oomblik hou hy my baba in die lug. Ek kyk net om te sien wat die geslag is, en dankie tog, dit is my meisiekind waarvoor ek so hard gebid het. Hulle bring haar na my, toegedraai in 'n wit handoek. Ek onthou toe 'n vriendin se woorde... "as jy daai mensie sien, en al is daai gesiggie opgeswel en die oë pof, is dit vir jou die mooiste dingetjie wat jy nog gesien het", en sy was reg. Daai aand toe almal weg was en net ek en Marli in die kamer lê, het ek haar uit haar mandjie uit getel en in my bed in. Sy moes hier teen my slaap. Ek het 9 maande gewag vir hierdie dag en nou wil ek haar by my hê. Ek het na haar gelê en staar en kon nog nie glo dat dit my kind was nie. Sy was so mooi en so perfek. Van die klein gesiggie met sy klein oë, neus en mondjie, af tot by die klein toontjies wat so lekker omkrul. Ek het in trane uit gebars en die Here gedank vir hierdie pragtige kind wat hy my gegee het. Hierdie was die wonderlikste dag van my lewe.