Wednesday, 17 October 2012

Totsiens Mammie!


Alhoewel hierdie blog begin is om al die sëening in my lewe te deel met julle, wil ek tog oor my ma ook skryf, want al is sy nie meer met ons nie, was sy een van die grootste sëeninge in my lewe.

My pragtige moeder is op 24 September (slegs 6 dae voor haar 54ste verjaardag) oorlede na 'n kort stryd met kanker. Voor dit met my ma gebeur het, was kanker iets wat net met ander mense gebeur. Dit was iets wat ons net op die films gesien gebeur het. Dit sou tog nooit met ons familie gebeur nie... die lewe is vol verassings.

Mei hierdie jaar het sy het ons laat weet dat sy Lymph-klier kanker het en sou na 3 maande se chemo behandeling heel skoon wees. So ons was nie bekommerd gewees nie, als sou "o.k" wees in die einde. Dit was toe nie net Lymph-klier kanker nie, sy was baie baie siek gewees. Weet nie of sy nie die volle waarheid vir ons vertel het nie, of het die dokter ook nie alles vir haar laat weet nie, dit sal net sy weet. Maar sy was 'n tipiese ma, wil nie haar kinders of man bekommer nie, als vir haarself gehou. Sy het die pyn alleen gedra.

Eers was ek kwaad toe ek uitvind hoe siek sy regtig was en dat sy ons nie laat weet het nie, maar vandag is sy my grootste voorbeeld van 'n sterk en goeie vrou. My ma was 'n vegter. 


Ek het geweet eendag sou ek my ouers moes groet, ons leef nie vir altyd nie, maar as hulle so vroeg in hul lewe weggeneem word, is dit darem ‘n bitter pil om te sluk. Veral vir my wat nou al die laaste 4 jaar in die Kaap woon. Ek het so uit gesien om weer by my familie te wees. Nog net 2 maande en ons sou huis toe kom en ek sou mooi na haar gekyk het … net nog 2 maande.

Toe ek en Marli Julie maand gou vir ‘n week gaan kuier het, het sy dit so waardeer. Sy was so positief, sy het nie vir my swak voorgekom nie, maar sy het na ‘n foto van my en haar gestaan en kyk op my troue 4 jaar gelede en haar woorde aan my: “ek kan nie glo hoe goed ek daar gevoel het teenoor nou nie. Daai tyd kon ek berge versit”. Ons sou nie kon verstaan waardeur sy gegaan het met die kanker en die Chemo behandeling nie. Ek is net dankbaar dat ek daai tyd na die  stem geluister het en gaan kuier het. Nie geweet toe ek haar daai dag groet, dit sou die laaste wees nie. Ek wonder of sy gewonder het of dit die laaste keer sou wees wat sy ons sou sien.

My ma was my anker, sy was my alles. Onbewustelik het ek alles wat ek gedoen het, gedoen vir haar goedkeuring. Sodat sy vir my kon sê sy is trots op my. Toe ek van haar heengaan te hore kom, is my drome ook daarmee heen. Vir watter rede sou ek nou wou lewe. Niemand anders het op daai oomblik saak gemaak nie.

Daar is so baie dingetjies van haar wat ek gaan mis, maar wat ek die meeste gaan mis:
  • Is die kuiertjies in die kombuis terwyl sy kos gemaak het. Ons meisies het so lekker daar gesit en kuier.
  • Ma se kos. Niemand maak kos soos jou ma nie
  • Haar lekker lag. Een van daai aansteeklikes
  • Haar sagte hande en sagte vel
  • Haar grappies
  • Haar reuk. Soos net ‘n mamma kan ruik.
  • Haar drukkies
  • Haar stem oor die telefoon
  • Die bederfies van ‘n ma
  • Sondae-oggende en vakansie oggende in hulle bed. Al die kinders en honde saam in hulle bed. Pa bring die koffie.
  • Haar troosende woorde as jy ‘n af dag het. Niemand maak jou beter voel as jou ma nie. So wie sal my nou troos.

Sy was ‘n karakter op haar eie. Sy was nie een van daai vervelige ma’s nie. Nee, sy het haar lewe geniet. Sy was ‘n sterk mens. Sy was ‘n omgee mens, almal se belange voor haar eie gestel. Sy was ‘n goeie ouma, haar kleinkinders was haar trots. Sy was ‘n ma, maar tog ook my vriendin. Sy was ‘n voorbeeld vir baie. Ek mis haar so!

‘n Mens se geestelike lewe wil nogals ‘n knak vang as jy so hard gebid het dat sy tog gesond moet word, dat die Here haar nie van ons moet wegvat nie. Ek kan verstaan dat ateïste sal vra: “waar is daai god van jou nou?”. Ek wou dit ook weet. Hoekom het Hy ons gebede op dowe ore laat val? Hoekom moes Hy haar wegneem?

Niemand sal daai vrae vir my kan beantwoord nie, maar een ding weet ek verseker, sy sal eendag in die Hemel wees en dit is nou vir my om te sorg dat my lewe reg is voor God as ek haar weer wil sien. En as ons eendag daar saam in die Hemel is, sal geen dood ons weer skei nie. Ons sal vir ewig en ewig saam wees en weer kan stories saam vertel en lag.

Intussen, rus saggies my mooiste mammie. Ek is baie lief vir jou. Ek sal mooi na pa kyk, ek belowe.

Totsiens mammie…

No comments:

Post a Comment