Monday 13 August 2012

Marli-angelo


Ek het mos weer na al die jare die verfkwasse uitgepluk en begin verf. Klein pop wou die hele tyd net kyk wat maak ma, en natuurlik was dit moeilik om die klein handjies uit die verf uit te hou. Collin het gehelp, toe trek ons maar vir haar die voorskoot aan, stel vir haar skoon papier in die esel op en sit die verf vir haar reg en toe laat waai sy. Die plesier op daai gesiggie was dit die moeite werd. 

Voor Marli se geboorte het ek my nogals 'n paar dinge ingedink soos bv. dat sy Collin se rooi wange moet he, dat ek haar graag sal wil laat ballet klasse doen, dat ek vir haar 'n groot pophuis gaan bou agter in ons jaard waar sy heeldag kan huis huis speel, dat ek en sy gaan saam bak ens. maar ek het nooit regtig gedink daaraan dat sy dalk mamma se kuns talent sal erf en 'n liefde vir die kuns ontwikkel nie. Ons sal dit maar dophou, wie weet, sy is dalk eendag die volgende Michaelangelo...

Hier is fototjies van die eerste verf-sessie :)

Friday 3 August 2012

Ons gaan verras Ouma en Oupa!

Ek het vir my en Marli 'n vliegkaartjie geboek, maar nie my ouers laat weet dat ons kom kuier nie. Ek wou hulle bietjie verras. So, ek het met my susters gereel om ons te kom haal en alles te organiseer. 

Marli was so soet en oulik op die vliegtuig gewees. Sy het met die tannie langs ons en die drie vroue agter ons so gesels, dat hulle almal haar net wou saamvat huis toe. Hulle het haar so geniet. As ek net kon verstaan waaroor sy gesels het. Sy het behoorlik lang stories met hulle gepraat.

Ouma en Oupa was omtrent omkant gevang toe ons daar kom stop by my ouerhuis in Okahandja. Hulle het nie mooi geweet hoe om te reageer nie, maar die blydskap was daar! Dit was goed om by die huis te wees. Tannie Claudine was daar met met Marli se niggies, Danica en Mia en Tannie Anné     het ook kom saam kuier.

Dit was 'n reunie vir die niggies ook gewees. Danica is die ouer een van die drie (4 jaar), dan is dit Marli (20 maande) en Mia (17 maande). So bly Marli het niggies saam wie sy kan speel. Natuurlik was daar die stryery en bakleiery ook gewees. Watter kinders stry nou nie. Die een wil daai een se speelding hê ens ens, maar hulle het heerlik kon saam in die sand speel, boek lees en saam bad in die aande. Dis nogals iets waarna ek uitgesien het, dat Marli en haar niggies saam groot word as vriende.


Wat vir my so lekker was, was om te sien hoe Marli kind kon wees vir 'n slag. Sy het elke dag in die sand gespeel en soms moes ek in die aande die vingerborsel gebruik om die sand onder haar naels uit te kry. Ek het vir haar speel pakkies gaan koop dat sy haarself kan geniet, sonder dat ek my bekommer oor haar klere wat vuil word. 


Marli het dit ook geniet om met die honde te speel. Groot of klein, sy het hulle almal geniet. Sal maar moet eendag vir haar 'n hondje kry.


Ouma en oupa het nie geweet wat hulle getref het nie. Drie kleintjies saam in een huis, almal gil en hardloop en dra alles rond. Die huis het behoorlik gelyk of 'n orkaan dit getref het. The Joys of a family.

Hier is Ouma Hattie saam met haar drie kleindogters.


Marli met oupa se werk-hoed


Die week het natuurlik so vinnig verby gegaan. Die lang beplande vakansie en toe ek my oë uitvee, toe is dit alweer tyd om terug te gaan Kaap toe.

Mis my familie al klaar! Maar nis nog net 5 maande, dan is ons alweer sak en pak oppas terug Namibia toe.