Wednesday 25 April 2012

Gereed vir Winter!

Die heel lekkerste om 'n dogtertjie te hê, is om haar aan te trek. Mens kry sulke mooi en oulike klere vir hulle. Een ding wat ek geweet het ek vir haar wil koop vir die winter, is 'n kamerjas. Daar is niks lekkerder as om 'n kamerjas aan te trek in die koue winters van die kaap nie. Snoesig sag en heerlik warm. 
So toe ek hierdie mooi pienk ene raak loop in die dorp, toe MOES ek dit net koop. Gelukkig was ek nie in die moeilikheid met die Finansiëele bestuurder nie, want hy weet Marli het dringend nog warm klere vir hierdie winter nodig, die arme kind het omtrent uit al haar kleertjies van verlede jaar  gegroei. Kyk hoe spog ons in ons nuwe kamerjas.

Een ding kan ek goed onthou wat my ma my gesê het, en dit is dat daar nooit geld vir jouself sal wees nie, maar altyd geld vir jou kinders, en dit is ook presies net so. Ek het in 'n tydskrif hierdie oulike tentjie gesien by Mr Price Home, en pappa se arm getrek dat ons dit vir Marli moet gaan kry, sodat sy haarself kan besig hou in die huis wanneer die nat winters die Kaap toesak en jy nie kan durf die voordeur oop maak nie. Ek gaan haar so jammer kry hierdie winter om in die ou klein studentehuisie vasgevang te sit, en in die Kaap hou die winter mos virewig aan.
Sy was darem mal oor haar tentjie en het sommer dadelik haar DVD speler, haar boek en haar "Woef" daarheen gesleep en haarself besig gehou. Viola geniet natuurlik die tent meer as Marli.

Ons vriende, Sarel en Ronica, se dogter Twainé het Maandag 9 geword, en Ronica het my ook ingespan om te help met die partytjie. Ons het 'n "Spa" partytjie gehou. Twainé en 5 vriendinnetjies was deur my en Ronica ge-pamperlang deurdat ons vir hulle gesigbehandelings, 'n manicure en 'n pedicure gegee het. Marli was die kleinste maaitjie daar die dag, maar dit beteken nie ons kan haar nie ook mooi maak nie. Mammie het maar haar toonaels vir haar mooi pienk gemaak soos haar kamerjas. Sy was die soetste dingetjie ooit, jy het nie van haar geweet nie. Behalwe dat sy 'n gat in die sweeties in tjippies in geëet het he he.

Dingetjies wat Marli doen:
1.  Sy is nogsteeds lief om te maak of sy op die selfoon praat, maar deesdae speel sy op haar eie klein rekenaar en druk die knoppies terwyl sy op die selfoon praat. Sien dit seker by mamma by die werk.
2.  Sy hou daarvan om dingetjies te laat afval van die bed af, of uit die bad uit en dan oor te loer en te sê "oh oh!". Maak jy wil haar net opsoen.
3.  Bring deesdae al ma se skoene tv kamer toe, en dan moet dit aan ma se voete aangetrek te word.
4.  Hou van enige handsak wat sy in die hande kan kry. Dan gaan dit oor die armpie (nie die skouer nie, ekskuus my) en dan paradeer ons rond in die huis. Soms word ons nog totsiens gewaai ook, maar dan moet ons haar mooi dophou, want gewoontlik gaan sy dan reguit by die voordeur uit en gaan kuier by die bure. (Ja ma, wonder waar sy daai gier vandaan sou kry).
5. Ek leer vir haar "I love you" deurdat ek met my fingertjie by my oog hou, dan my hart, dan op haar borsie. Sy sê al te kostelik die "I love you" op haar baba-taal manier wat klink soos "I O U", maar die vingertjie hak net by die oog vas.

Ek is tog so lief vir ons engelkind!

No comments:

Post a Comment