Wednesday 25 April 2012

Gereed vir Winter!

Die heel lekkerste om 'n dogtertjie te hê, is om haar aan te trek. Mens kry sulke mooi en oulike klere vir hulle. Een ding wat ek geweet het ek vir haar wil koop vir die winter, is 'n kamerjas. Daar is niks lekkerder as om 'n kamerjas aan te trek in die koue winters van die kaap nie. Snoesig sag en heerlik warm. 
So toe ek hierdie mooi pienk ene raak loop in die dorp, toe MOES ek dit net koop. Gelukkig was ek nie in die moeilikheid met die Finansiëele bestuurder nie, want hy weet Marli het dringend nog warm klere vir hierdie winter nodig, die arme kind het omtrent uit al haar kleertjies van verlede jaar  gegroei. Kyk hoe spog ons in ons nuwe kamerjas.

Een ding kan ek goed onthou wat my ma my gesê het, en dit is dat daar nooit geld vir jouself sal wees nie, maar altyd geld vir jou kinders, en dit is ook presies net so. Ek het in 'n tydskrif hierdie oulike tentjie gesien by Mr Price Home, en pappa se arm getrek dat ons dit vir Marli moet gaan kry, sodat sy haarself kan besig hou in die huis wanneer die nat winters die Kaap toesak en jy nie kan durf die voordeur oop maak nie. Ek gaan haar so jammer kry hierdie winter om in die ou klein studentehuisie vasgevang te sit, en in die Kaap hou die winter mos virewig aan.
Sy was darem mal oor haar tentjie en het sommer dadelik haar DVD speler, haar boek en haar "Woef" daarheen gesleep en haarself besig gehou. Viola geniet natuurlik die tent meer as Marli.

Ons vriende, Sarel en Ronica, se dogter Twainé het Maandag 9 geword, en Ronica het my ook ingespan om te help met die partytjie. Ons het 'n "Spa" partytjie gehou. Twainé en 5 vriendinnetjies was deur my en Ronica ge-pamperlang deurdat ons vir hulle gesigbehandelings, 'n manicure en 'n pedicure gegee het. Marli was die kleinste maaitjie daar die dag, maar dit beteken nie ons kan haar nie ook mooi maak nie. Mammie het maar haar toonaels vir haar mooi pienk gemaak soos haar kamerjas. Sy was die soetste dingetjie ooit, jy het nie van haar geweet nie. Behalwe dat sy 'n gat in die sweeties in tjippies in geëet het he he.

Dingetjies wat Marli doen:
1.  Sy is nogsteeds lief om te maak of sy op die selfoon praat, maar deesdae speel sy op haar eie klein rekenaar en druk die knoppies terwyl sy op die selfoon praat. Sien dit seker by mamma by die werk.
2.  Sy hou daarvan om dingetjies te laat afval van die bed af, of uit die bad uit en dan oor te loer en te sê "oh oh!". Maak jy wil haar net opsoen.
3.  Bring deesdae al ma se skoene tv kamer toe, en dan moet dit aan ma se voete aangetrek te word.
4.  Hou van enige handsak wat sy in die hande kan kry. Dan gaan dit oor die armpie (nie die skouer nie, ekskuus my) en dan paradeer ons rond in die huis. Soms word ons nog totsiens gewaai ook, maar dan moet ons haar mooi dophou, want gewoontlik gaan sy dan reguit by die voordeur uit en gaan kuier by die bure. (Ja ma, wonder waar sy daai gier vandaan sou kry).
5. Ek leer vir haar "I love you" deurdat ek met my fingertjie by my oog hou, dan my hart, dan op haar borsie. Sy sê al te kostelik die "I love you" op haar baba-taal manier wat klink soos "I O U", maar die vingertjie hak net by die oog vas.

Ek is tog so lief vir ons engelkind!

Friday 6 April 2012

Familiedag-terapie

Ek noem hierdie artikel “familiedag-terapie”, want om ‘n dag net as familie deur te bring doen wonders vir die siel en vir julle as gesin. Dit was ‘n wonderlike Paas-Vrydag.
Ons het die oggend wakker geword met heerlike koel weer. Marli wou natuurlik nie toelaat dat mamma kan laat slaap nie, al het mamma eers 12uur in die bed gekom nadat ons die aand gebraai het. Haar natuurlike wekker skop my toe 7uur uit die bed uit. Met ‘n roei en stoei moes “Teddie” toe ook saam kom om tv te kyk. Sy het hom alleen gedra (met papa se hulp om die moeilike hoeke) tot voor die tv en bo op Teddie gaan sit. Ja Ouma Lily, Marli is nog al die tyd MAL oor haar Teddie!
Ons het geen planne vir die dag gehad nie, maar dink toe, so op die hitte van die oomblik, dat ons die dag bietjie in die Kaap moet deurbring om vir Marli so bietjie uit te vat (eintlik wou ma en pa regtig bietjie wegbreek).
Ons het Marli toe na die klein “Blou Trein” toe gevat by See-punt.  Sy het dit omtrent geniet. Net jammer dit was bietjie kort. Sy het ons toe maar besig gehou by die parkie daar naby. Groot mense moet weer kinders word om saam die kleingoed te speel.
Ons het toe die dag verder by die V&A Waterfront deur gebring, en magtig, ek dog almal is weg vir die naweek, net om te besef almal is toe al die tyd by die Waterfront, want was daar mense net waar jy kyk. Daar was verksriklik baie vermaak daar vir die dag en pragtige musiek talente. Hierdie keer moes mamma deurloop toe Marli die klein “jungle-gym” gewaar”. Nou het ons ook ‘n klein advontuurlustige mensie.
Om die dag in die Kaap af te sluit, het ek en Collin vir die eerste keer seker vandat Marli gebore is, gaan fliek, maar ons het haar saam gevat. Ons het “The Lorax” in 3D gaan kyk, en ja, Marli het haar eie stel brille gekry. Sy het dit nie eens probeer afhaal nie en was stroopsoet deur die hele film. So trots op haar. Mag die Here ons lei om haar reg groot te maak dat sy vir altyd so goeie, soet kind sal wees.
Ek wil darem net hierdie fototjie ook met julle deel. Marli het gister pa se paaseier in die hande gekry. Een van daai wit eiers met die sjokolade in die binnekant, en toe ek weer sien, was die hele gesiggie vol wit lekkergoed. Dit laat my dink aan die foto van my wat met my ma se meelblik gespeel het. Spier wit.
Mooi paasnaweek verder almal!

Tuesday 3 April 2012

Dis die klein dingetjies in die lewe...

My liefde vir jou is oneindig baie... is die woorde wat in my gedagtes opkom soos ek Marli sien grootword.  Dis ontmoontlik om te dink hoe mens een mensie so lief kan hê. Hoeveel te meer het God ons nie lief nie. As ouers het ons so klein bietjie van 'n idee. Hierdie klein mensie en als wat sy doen is vir ons so kostbaar. Ek wens ek kan al die mooi vir altyd onthou. Dus die begin van die "Blog". Ek wil al die mooi met ons familie en vriende deel.

Ek maak nou die Sondag vir ons heerlike pot hoender. Nader aan die aand begin ons weer honger word, en ek haal die oorskiet hoender uit die yskas uit om te verhit. Maar soos gewoonlik is daar nooit plek in ons kombuis om iets neer te sit nie, en ek sit die bak vir 'n oomblik op die voetstoel neer sodat ek gou die ander kos ook kan uithaal. Toe ek omdraai is die prentjie wat ek kry, Marli met die hele hoender in haar mond. Sy het self die glasbak se deksel opgelig en die hoender uit gehaal. Dit was 'n eerste. Sy geniet deesdae haar kossies so, is so lekker om haar te sien eet.

Ons het die Sondagoggend vir Marli ook bietjie strand toe gevat vir ontspanning voordat ek en Collin agter die rekenaars in moet spring en werk. Nou dat sy bietjie ouer en mobiel is, geniet sy die strand so. Hier is so paar fototjies van daai kosbare lyfie op die strand. Ma se "beach babe!".



Later die middag het ons vriende se dogtertjie Twaine gevra of sy en Marli so bietjie deur die sproeier kan hardloop en afkoel. (Natuurlik nog 'n foto geleentheid vir my). In die begin het Marli maar op Twaine se heup gesit, maar na so paar keer deur die sproeier het sy kans gesien om die water self aan te durf. 


Ek het net haar nat swembroekie uit getrek en dröe doekie aan gesit, toe sy op die bank klim en met my rekenaar wou speel. Een oomblik is sy nog wakker en maak kamstig of sy tik op die rekenaar, draai my rug en hang wasgoed weg en toe ek omdraai, sit sy vas aan die slaap op die bank. Weereens 'n eerste vir my.








Ek het vir haar 'n armbandjie gekoop wat ek eintlik vir haar met haar 1ste verjaardag wou gee, maar nie een kon kry nie. Een dag loop ek by 'n winkel in om vir my 'n horlosie te koop en hier in die glaskas vertoon die pragtige armbandjie. Collin het natuurlik net vir my gekyk of hy wou sê dit is onnodige geld wat ek uit gegee het, maar ek het 'n brein van my eie, as ek soek dan soek ek. Ek het gou haar naam op laat graveer en siedaar... lyk dit nie te dierbaar op daai klein armpie nie.



En hier is maar net 'n paar fototjes van my prinsessie met haar hare wat al so lank geword het dat ek gemaklik 'n bokstertjie kan maak.