Tuesday 18 October 2011

Soene, kou-goed en slaaptyd!

Vandag toe lees ek  'n vriendin se "blog" en ek kon nie help om by myself te lag toe ek lees van haar dogtertjie Isabella wat so papier eet nie, want ek het presies dieselfde probleem met Marli. Sy is mal oor papier eet, veral toiletpapier. Vandag toe kry sy weer 'n rolletjie in die hande. Ek moes net 'n foto neem en met julle deel. Nou die dag by die kerk, plaas ek haar op die tafel in die badkamer om haar doek te ruil en nie gesien dat daar toiletrolle naby was nie. Toe ek weer sien,  kou sy te lekker aan hulle. Jy sien net toiletpapier trek.

Soos Marli groter word, so ontwikkel die persoonlikheid ook. Sy is so 'n plesier in ons huis. Ons kan haar net sit en dophou wat sy doen en hoe sy die wêreld om haar leer ken. Kosbaar.
Deesdae as dit kom by slaaptyd, rol sy haarself heen en weer in haar kot, tot sy naderhand heel van haar kussing af lê, en sommer dwars oor die kot ook nog, koppie terug gegooi en teddie op die gesig. So sal sy aan die slaap raak. Sy hou ook niks van die komberse op haar nie en skop hulle ook gereeld af.

Marli het die soen bemeester. Ons vra haar deesdae: "Marli, gee mamma/pappa 'n soentjie", en dan kom sy nader en gee sy ons so 'n oopmond soentjie. Ons geniet dit so! Vandag sien ek hoe gee sy haar skapie ook soene. Tog te oulik.

Sy het iewers geleer hoe om met haar koppie "ja" te knik, of "nee" heen en weer te swaai. Weet nog net nie mooi wanneer om ja of nee te sê nie, maar glo my, as sy nie meer wil eet of haar medisyne wil drink nie, weet sy presies dat sy "nee" moet sê.

Marli wil nog niks weet van kruip nie, sy staan gemaklik hande vier-voet, maar na 'n tyd gooi sy haar bene onder haar uit en lê net daar op haar magie in die rondte en draai. Sy is wel bitter lief vir stap (met ons hulp natuurlik). Sy stry altyd om regop te kom en dan wil daai beentjies net loop. Ek glo Marli sal van sit reguit na stap toe gaan, of as sy kruip, sal dit 'n baie kort tydjie wees.

Ook het sy deesdae hierdie ding dat sy nie self haar bottel wil vashou nie. Sy lê net daar, hande in die lug en dan moet ons letterlik haar hande neem en dit teen die bottel plaas dat sy moet houvas. Ek kom agter dat sy eintlik baie slinks is en hou daarvan dat alles vir haar gedoen moet word. Klein bederf.

Ek is so dankbaar vir tegnologie en dat ek darem op hierdie wyse 'n stukkie van Marli met julle kan deel, 'n stukkie van die vreugde wat sy in ons lewe bring. Ek kan regtig nie my lewe meer indink sonder haar nie. Haar vriendelikheid, prag en liefdevolle geaardheid maak dat mens nie anders kan as om vir haar lief te wees nie, en die bewyse is daarin orals waar ons gaan. Sy maak koppe draai en almal wil net met haar gesels of haar vashou. By haar skooltjie is sy gewild onder al die maaitjies en die terugvoering is altyd positief: "Soet en lieflike kind, speel lekker met maaitjies, eet haar kossies, slaap soet". Marli glimlag altyd, al is sy hoe siek en haar koors die hoogte in.
Marli my engeltjie, ons is baie baie lief vir jou. Dankie vir die vreugde wat jy in pappa, mamma en al die ander mense se lewens bring. Mag jy altyd so 'n prag kind bly en onthou, hou net altyd vas aan Jesus, want Hy hou altyd vas aan jou.

No comments:

Post a Comment