Monday 31 October 2011

Ditjies en Datjies ...

Marli het nogsteeds nie die hele kruip-storie onder die knie nie. Sy wil wil kruip, maar seil nog baie agteruit, of as sy op haar kniëe staan, dan loop sy nog net met die handjies na vore, die kniëe wil nog nie lekker saamwerk nie. Maar sy is baie lief daarvoor om regop te staan en trek haarself op teen die meubels en in die bad.
Sy probeer ook om by haarself  regop te kom sonder om haar op te trek teen iets, maar was nog nie heeltemal suksesvol nie.

Verlede week het die skooltjie gereel dat die brandweer ‘n vertoning vir die kinders kom gee, en dan sou die kinders in die skuim kon speel. Daarom het hulle gevra dat die kinders asseblief hulle swemklere saambring. Wel, gelukkig het Marli nog gepas in die swembroek wat Tannie Anné vir haar gekoop het. Sy het te ougat gelyk! Laaste wat sy hierdie swembroekie gedra het, was sy maar 2 maande oud. Gelukkig is Marli 'n fein dogterjie, so sy dra haar klere langer as wat sy behoort. Spaar my darem so 'n paar sente.

Marli “explore” nou alles. Collin was besig om haar nou die dag uit te trek, toe sy self haar skoene se veters begin losmaak. Ek weet nie hoeveel keer ek al die DVD’s moes terug pak in die rak nie. 
Haar gunsteling nuwe speelplek is die potte en Tupperware kas in die kombuis. Maar ten minste hou dit haar vir ‘n lang tyd besig, so ek los haar maar dat sy haarself geniet. Kos my net ekstra skoonmaakwerk elke dag.  Snaaks hoe kinders maak dat jy soveel meer geduld het, of is dit maar net die feit dat ek nou meer volwasse en gekalmeerd is, want die dinge wat ek gedink het my sou ontstel as my kind dit eendag sou moes doen, pla my nou die minste. Mens groei saam met jou kind.

Marli is ook baie lief daarvoor om alerhande knoppies te druk wanneer ek op my rekenaar besig is, todat dit geluide begin maak. Ek moet sê, sy het al dinge reg gekry op my rekenaar wat ek nie geweet het mens kan doen nie. So nou en dan as ons lui wil wees, dan kyk ons ‘n film op my rekenaar in die bed (veral met die koue reenweer die laaste tyd), maar weereens is dit nie so maklik gesê as gedaan nie, want Marli wil knoppies druk. Ek sal maar moet vir haar haar eie “rekenaar” koop sodat myne darem nog ‘n paar jaar langer sy werk kan doen.

Marli is mal daaroor om agter die stuur van die wiel in te klim. Gewoontlik laat Collin dit toe terwyl hulle vir my wag wanneer hy en Marli my by die werk kom optel of as ons net iewers op die kampus heen ry. Daai ou klein lyfie agter die wiel is so koddig. Dit sit 'n glimlag op my gesig elke dag as ek om die draai kom loop en ek sien haar op pa se skoot agter die stuurwiel, en jy kan sommer sien hoe geniet sy dit, want sy wieg heen en weer en gesels tog te lekker.





Ons geniet ons klein poplap vreeslik. Elke dag saam met haar gee ons net vreugde en plesier. Ons kyk nou wel so bietjie meer gereeld vir “Carike en Ghoempie” as wat ons nou ons eie films of programme sou kyk, maar ons sal dit enige dag vir ons engeltjie doen. Kan nie glo sy word oor bietjie meer as twee weke 1 jaar oud nie. Die lewe spin verby ons. Daarom geniet ons maar net elke oomblik saam met haar en probeer kwaliteit tyd saam deurbring. Elke dag saam met haar is ‘n geskenk van die Here.

Arme Marli, haar ma kan nie wag dat haar hare lank genoeg is om mee te begin speel nie. Sy het die naweek so bietjie onder die haarborsel en rekkies deur geloop (gelukkig nie die sker soos my ma sou doen nie he he). Nou ja, die hare is nog nie heeltemal lank genoeg nie, maar ek kon darem twee “amper” bokstertjies regkry, en vanoggend vir skool is sy met die fonteintjie op die kop skool toe. Ja ek weet, julle kry die kind baie jammer met ‘n ma soos ek.

Ook het ons so week gelede haar nuwe motor-stoeltjie ingesit. Nou kan sy ook sien wat rondom haar aangaan. Sy was nog nie die regte gewig vir hierdie stoeltjie nie, so ons moes haar maar nog in die ander stoeltjie hou, al was haar bene al té lank vir die ander stoeltjie en was dit vir haar niks lekker om agter toe te kyk nie.  Sy geniet hierdie stoeltjie nou so, dat sy nou eers begin te klets as ons iewers heen ry, klink skoon asof sy met ons ‘n gesprek aanvoer (wel, dalk doen sy).

Tuesday 18 October 2011

Soene, kou-goed en slaaptyd!

Vandag toe lees ek  'n vriendin se "blog" en ek kon nie help om by myself te lag toe ek lees van haar dogtertjie Isabella wat so papier eet nie, want ek het presies dieselfde probleem met Marli. Sy is mal oor papier eet, veral toiletpapier. Vandag toe kry sy weer 'n rolletjie in die hande. Ek moes net 'n foto neem en met julle deel. Nou die dag by die kerk, plaas ek haar op die tafel in die badkamer om haar doek te ruil en nie gesien dat daar toiletrolle naby was nie. Toe ek weer sien,  kou sy te lekker aan hulle. Jy sien net toiletpapier trek.

Soos Marli groter word, so ontwikkel die persoonlikheid ook. Sy is so 'n plesier in ons huis. Ons kan haar net sit en dophou wat sy doen en hoe sy die wêreld om haar leer ken. Kosbaar.
Deesdae as dit kom by slaaptyd, rol sy haarself heen en weer in haar kot, tot sy naderhand heel van haar kussing af lê, en sommer dwars oor die kot ook nog, koppie terug gegooi en teddie op die gesig. So sal sy aan die slaap raak. Sy hou ook niks van die komberse op haar nie en skop hulle ook gereeld af.

Marli het die soen bemeester. Ons vra haar deesdae: "Marli, gee mamma/pappa 'n soentjie", en dan kom sy nader en gee sy ons so 'n oopmond soentjie. Ons geniet dit so! Vandag sien ek hoe gee sy haar skapie ook soene. Tog te oulik.

Sy het iewers geleer hoe om met haar koppie "ja" te knik, of "nee" heen en weer te swaai. Weet nog net nie mooi wanneer om ja of nee te sê nie, maar glo my, as sy nie meer wil eet of haar medisyne wil drink nie, weet sy presies dat sy "nee" moet sê.

Marli wil nog niks weet van kruip nie, sy staan gemaklik hande vier-voet, maar na 'n tyd gooi sy haar bene onder haar uit en lê net daar op haar magie in die rondte en draai. Sy is wel bitter lief vir stap (met ons hulp natuurlik). Sy stry altyd om regop te kom en dan wil daai beentjies net loop. Ek glo Marli sal van sit reguit na stap toe gaan, of as sy kruip, sal dit 'n baie kort tydjie wees.

Ook het sy deesdae hierdie ding dat sy nie self haar bottel wil vashou nie. Sy lê net daar, hande in die lug en dan moet ons letterlik haar hande neem en dit teen die bottel plaas dat sy moet houvas. Ek kom agter dat sy eintlik baie slinks is en hou daarvan dat alles vir haar gedoen moet word. Klein bederf.

Ek is so dankbaar vir tegnologie en dat ek darem op hierdie wyse 'n stukkie van Marli met julle kan deel, 'n stukkie van die vreugde wat sy in ons lewe bring. Ek kan regtig nie my lewe meer indink sonder haar nie. Haar vriendelikheid, prag en liefdevolle geaardheid maak dat mens nie anders kan as om vir haar lief te wees nie, en die bewyse is daarin orals waar ons gaan. Sy maak koppe draai en almal wil net met haar gesels of haar vashou. By haar skooltjie is sy gewild onder al die maaitjies en die terugvoering is altyd positief: "Soet en lieflike kind, speel lekker met maaitjies, eet haar kossies, slaap soet". Marli glimlag altyd, al is sy hoe siek en haar koors die hoogte in.
Marli my engeltjie, ons is baie baie lief vir jou. Dankie vir die vreugde wat jy in pappa, mamma en al die ander mense se lewens bring. Mag jy altyd so 'n prag kind bly en onthou, hou net altyd vas aan Jesus, want Hy hou altyd vas aan jou.

Tuesday 4 October 2011

Marli help mamma "Spring Clean"!

Sondag was my groot "Spring Clean" dag, en ek het omtrent geswoeg en gesweet met die klein plekkie. Net nadat ek die CD's reg gepak het, besluit Marlie: "ha ah, dit lyk nie vir my reg nie, kom ek help bietjie vir mamma", en sy pak omtrent alles weer uit. 'n Nuwe mylpaal vir haar. Dis die eerste keer dat sy een van die kaste in die huis uitpak anders as haar doekesak of speelgoed-sak. 

(Jammer vir die video kwaliteit. Ek moes dit kleiner maak om moontlik te maak vir oplaai)