Monday 3 December 2012

Ons laaste kuiertjies in die Kaap!

Ons tyd in die Kaap kom nou bitter vinnig tot 'n einde, so ons probeer nou om so veel moontlik te sien en doen voordat ons hier weg gaan. Ek wens ek was saam met Collin op verlof dat ons die hele week kon rondry en dingetjies doen, maar nou ja, ek het nodig om te werk sodat ons Januarie maand sal kan oorleef terwyl ek vir werk moet gaan soek.

Saterdag was ons in Melkbosstrand. Dis nou vir jou 'n oulike plekkie. Sal nie omgee om daar te gaan bly nie. Klein en intiem, maar aan die gang. So regte vakansiedorp gevoel en Tafelberg is in jou sig. Die weer was pragtig die dag en ons kon darem nie huis toe gaan voordat ons nie 'n draai op die strand gemaak het nie. My ou alleen kind het dit tog so geniet!




Sondag het ons Ratanga Junction toe gegaan. Ons het dit eintlik vir Marli se onthalwe gedoen. Jy weet, dit is snaaks hoe dinge verander as jy 'n ouer is. Voorheen sou ons soontoe gaan om ons eie plesier, sodat jy die dag kan geniet, nou soek jy plekke waar jou kind haarself kan geniet en dit maak jou gelukkig om haar gelukkig te sien. Nou ja, daar was "rides" wat 'n ouer moes saamry en toe het ek tot 'n mate ook so bietjie "fun" gehad.



Ek is dankbaar vir my pragtige familie wat die Here aan my gegee het. Lief jou baie Collin my man, dankie vir die vriend wat ek in jou het en lief jou nog duisende meer my pragtige kind. Mamma en pappa is baie trots op die mooi kind wat jy is!

Wednesday 17 October 2012

Totsiens Mammie!


Alhoewel hierdie blog begin is om al die sëening in my lewe te deel met julle, wil ek tog oor my ma ook skryf, want al is sy nie meer met ons nie, was sy een van die grootste sëeninge in my lewe.

My pragtige moeder is op 24 September (slegs 6 dae voor haar 54ste verjaardag) oorlede na 'n kort stryd met kanker. Voor dit met my ma gebeur het, was kanker iets wat net met ander mense gebeur. Dit was iets wat ons net op die films gesien gebeur het. Dit sou tog nooit met ons familie gebeur nie... die lewe is vol verassings.

Mei hierdie jaar het sy het ons laat weet dat sy Lymph-klier kanker het en sou na 3 maande se chemo behandeling heel skoon wees. So ons was nie bekommerd gewees nie, als sou "o.k" wees in die einde. Dit was toe nie net Lymph-klier kanker nie, sy was baie baie siek gewees. Weet nie of sy nie die volle waarheid vir ons vertel het nie, of het die dokter ook nie alles vir haar laat weet nie, dit sal net sy weet. Maar sy was 'n tipiese ma, wil nie haar kinders of man bekommer nie, als vir haarself gehou. Sy het die pyn alleen gedra.

Eers was ek kwaad toe ek uitvind hoe siek sy regtig was en dat sy ons nie laat weet het nie, maar vandag is sy my grootste voorbeeld van 'n sterk en goeie vrou. My ma was 'n vegter. 


Ek het geweet eendag sou ek my ouers moes groet, ons leef nie vir altyd nie, maar as hulle so vroeg in hul lewe weggeneem word, is dit darem ‘n bitter pil om te sluk. Veral vir my wat nou al die laaste 4 jaar in die Kaap woon. Ek het so uit gesien om weer by my familie te wees. Nog net 2 maande en ons sou huis toe kom en ek sou mooi na haar gekyk het … net nog 2 maande.

Toe ek en Marli Julie maand gou vir ‘n week gaan kuier het, het sy dit so waardeer. Sy was so positief, sy het nie vir my swak voorgekom nie, maar sy het na ‘n foto van my en haar gestaan en kyk op my troue 4 jaar gelede en haar woorde aan my: “ek kan nie glo hoe goed ek daar gevoel het teenoor nou nie. Daai tyd kon ek berge versit”. Ons sou nie kon verstaan waardeur sy gegaan het met die kanker en die Chemo behandeling nie. Ek is net dankbaar dat ek daai tyd na die  stem geluister het en gaan kuier het. Nie geweet toe ek haar daai dag groet, dit sou die laaste wees nie. Ek wonder of sy gewonder het of dit die laaste keer sou wees wat sy ons sou sien.

My ma was my anker, sy was my alles. Onbewustelik het ek alles wat ek gedoen het, gedoen vir haar goedkeuring. Sodat sy vir my kon sê sy is trots op my. Toe ek van haar heengaan te hore kom, is my drome ook daarmee heen. Vir watter rede sou ek nou wou lewe. Niemand anders het op daai oomblik saak gemaak nie.

Daar is so baie dingetjies van haar wat ek gaan mis, maar wat ek die meeste gaan mis:
  • Is die kuiertjies in die kombuis terwyl sy kos gemaak het. Ons meisies het so lekker daar gesit en kuier.
  • Ma se kos. Niemand maak kos soos jou ma nie
  • Haar lekker lag. Een van daai aansteeklikes
  • Haar sagte hande en sagte vel
  • Haar grappies
  • Haar reuk. Soos net ‘n mamma kan ruik.
  • Haar drukkies
  • Haar stem oor die telefoon
  • Die bederfies van ‘n ma
  • Sondae-oggende en vakansie oggende in hulle bed. Al die kinders en honde saam in hulle bed. Pa bring die koffie.
  • Haar troosende woorde as jy ‘n af dag het. Niemand maak jou beter voel as jou ma nie. So wie sal my nou troos.

Sy was ‘n karakter op haar eie. Sy was nie een van daai vervelige ma’s nie. Nee, sy het haar lewe geniet. Sy was ‘n sterk mens. Sy was ‘n omgee mens, almal se belange voor haar eie gestel. Sy was ‘n goeie ouma, haar kleinkinders was haar trots. Sy was ‘n ma, maar tog ook my vriendin. Sy was ‘n voorbeeld vir baie. Ek mis haar so!

‘n Mens se geestelike lewe wil nogals ‘n knak vang as jy so hard gebid het dat sy tog gesond moet word, dat die Here haar nie van ons moet wegvat nie. Ek kan verstaan dat ateïste sal vra: “waar is daai god van jou nou?”. Ek wou dit ook weet. Hoekom het Hy ons gebede op dowe ore laat val? Hoekom moes Hy haar wegneem?

Niemand sal daai vrae vir my kan beantwoord nie, maar een ding weet ek verseker, sy sal eendag in die Hemel wees en dit is nou vir my om te sorg dat my lewe reg is voor God as ek haar weer wil sien. En as ons eendag daar saam in die Hemel is, sal geen dood ons weer skei nie. Ons sal vir ewig en ewig saam wees en weer kan stories saam vertel en lag.

Intussen, rus saggies my mooiste mammie. Ek is baie lief vir jou. Ek sal mooi na pa kyk, ek belowe.

Totsiens mammie…

Monday 17 September 2012

Dis Lente in die Kaap!

Hierdie naweek was die mooiste weer in die Kaap gewees met temperature tot 30 grade. Met sulke wonderlike weer, wie kan binnenshuis sit. Ons het saam met 'n klompie vriende die Saterdag middag by Koegelbaai deur gebring.


Marli is definatief 'n natuur-kind. Come to think of it, alle kindlers hou seker meer van buite speel as om net in die huis te sit. In elk geval, sy is altyd op haar gelukkigste as ons haar strand toe vat. Die glimlag op daai gesiggie is als die moeite werd.

Hierdie keer het sy darem maaitjies gehad om saam te speel, en het sy dit nou geniet! Die doek was papsop nat gespeel in die water en sand in die ore, neus en hare. Lekker mamma!


Die Sondag was ons gou gou deur na Blauwklippen om die vlooimark te gaan uitkyk, en het daarna na goeie vriende toe gegaan vir 'n braai. My prinsessie het so mooi gelyk in haar nuwe uitrusting, ek moes dit net met julle deel. My sonskynkind!


Nou ja, dit was ons naweek kortliks opgesom. Baie besig maar baie lekker. Lekker week verder almal!

Monday 10 September 2012

Marli-taal

Eendag as Marli groot is, dan gaan ons weer hierna kyk en lekker lag. Hulle is tog te dierbaar as hulle begin praat. Hier is 'n paar woorde wat Marli deesdae gebruik...


Monday 13 August 2012

Marli-angelo


Ek het mos weer na al die jare die verfkwasse uitgepluk en begin verf. Klein pop wou die hele tyd net kyk wat maak ma, en natuurlik was dit moeilik om die klein handjies uit die verf uit te hou. Collin het gehelp, toe trek ons maar vir haar die voorskoot aan, stel vir haar skoon papier in die esel op en sit die verf vir haar reg en toe laat waai sy. Die plesier op daai gesiggie was dit die moeite werd. 

Voor Marli se geboorte het ek my nogals 'n paar dinge ingedink soos bv. dat sy Collin se rooi wange moet he, dat ek haar graag sal wil laat ballet klasse doen, dat ek vir haar 'n groot pophuis gaan bou agter in ons jaard waar sy heeldag kan huis huis speel, dat ek en sy gaan saam bak ens. maar ek het nooit regtig gedink daaraan dat sy dalk mamma se kuns talent sal erf en 'n liefde vir die kuns ontwikkel nie. Ons sal dit maar dophou, wie weet, sy is dalk eendag die volgende Michaelangelo...

Hier is fototjies van die eerste verf-sessie :)

Friday 3 August 2012

Ons gaan verras Ouma en Oupa!

Ek het vir my en Marli 'n vliegkaartjie geboek, maar nie my ouers laat weet dat ons kom kuier nie. Ek wou hulle bietjie verras. So, ek het met my susters gereel om ons te kom haal en alles te organiseer. 

Marli was so soet en oulik op die vliegtuig gewees. Sy het met die tannie langs ons en die drie vroue agter ons so gesels, dat hulle almal haar net wou saamvat huis toe. Hulle het haar so geniet. As ek net kon verstaan waaroor sy gesels het. Sy het behoorlik lang stories met hulle gepraat.

Ouma en Oupa was omtrent omkant gevang toe ons daar kom stop by my ouerhuis in Okahandja. Hulle het nie mooi geweet hoe om te reageer nie, maar die blydskap was daar! Dit was goed om by die huis te wees. Tannie Claudine was daar met met Marli se niggies, Danica en Mia en Tannie Anné     het ook kom saam kuier.

Dit was 'n reunie vir die niggies ook gewees. Danica is die ouer een van die drie (4 jaar), dan is dit Marli (20 maande) en Mia (17 maande). So bly Marli het niggies saam wie sy kan speel. Natuurlik was daar die stryery en bakleiery ook gewees. Watter kinders stry nou nie. Die een wil daai een se speelding hê ens ens, maar hulle het heerlik kon saam in die sand speel, boek lees en saam bad in die aande. Dis nogals iets waarna ek uitgesien het, dat Marli en haar niggies saam groot word as vriende.


Wat vir my so lekker was, was om te sien hoe Marli kind kon wees vir 'n slag. Sy het elke dag in die sand gespeel en soms moes ek in die aande die vingerborsel gebruik om die sand onder haar naels uit te kry. Ek het vir haar speel pakkies gaan koop dat sy haarself kan geniet, sonder dat ek my bekommer oor haar klere wat vuil word. 


Marli het dit ook geniet om met die honde te speel. Groot of klein, sy het hulle almal geniet. Sal maar moet eendag vir haar 'n hondje kry.


Ouma en oupa het nie geweet wat hulle getref het nie. Drie kleintjies saam in een huis, almal gil en hardloop en dra alles rond. Die huis het behoorlik gelyk of 'n orkaan dit getref het. The Joys of a family.

Hier is Ouma Hattie saam met haar drie kleindogters.


Marli met oupa se werk-hoed


Die week het natuurlik so vinnig verby gegaan. Die lang beplande vakansie en toe ek my oë uitvee, toe is dit alweer tyd om terug te gaan Kaap toe.

Mis my familie al klaar! Maar nis nog net 5 maande, dan is ons alweer sak en pak oppas terug Namibia toe.


Thursday 5 July 2012

Ouma en Oupa se kuiertjie in die Kaap

Ouma en oupa Prinsloo het kom kuier, en die wat kinders het sal weet, dat die eerste kleinkind alles is. Die kuiertje het regtig gegaan om die baba en nie om die res nie he he. Skoonma het ons koskaste vir ons weer mooi kom volmaak met alles van Biltong en droëwors tot beskuit en suurlemoensap. Dankie ma!

Skoonma het toe sy my vroër die week gebel het, gesê dat Marli tussen hulle gaan slaap. Ek het nie gedink hulle sou dit kon uithou nie, want Marli hou niks van 'n kombers oor haar nie, en nog minder dat daar aan haar geklou word, maar wonder bo wonder het hulle dit die hele week uitgehou.

Marli het nie te lank terug mangelonsteking gehad, en het nogsteeds nie baie goed geëet nie, met die gevolg dat sy in die nag wakker geword het vir haar bottel, net mooi die tyd toe ouma en oupa kom kuier het. Shame, skoonma het 'n stukkie van haar verlede sien weerspieël toe sy ewe skielik in die in die middel van die nag weer moes opstaan om vir 'n baba 'n bottel te maak.

Saterdag het ons vir die dag uitgegaan Paternoster toe en oorgeslaap by Paters Haven. Nou vir die van julle wat nog nie in Paternoster was nie, dit is my ma se gunsteling plek en een van myne ook, omdat dit so stil en rustig daar is. Dis nog een van die min regte visserman dorpies soos die waarvan jy altyd in die storieboeke gelees het. Jy is weg van die stad en sy geraas, jy het die mooi oseaan voor jou en die wit Kaapse huisjes net waar jou oog dit kan sien. As jy lekker vis wil eet, is dit die plek daarvoor.


Tietiesbaai lê ook baie naby aan Paternoster, en ons het gou die middag daar 'n draai gaan maak en op die strand gaan loop. Marli en ouma het lekker op die strand gespeel, en natuurlik het sy net op oupa se skoot gesit as ons gery het.


Sondag is ons Langebaan om terug huis toe, en het vir middagete gestop by die "BOESMANLAND PLAASKOMBUIS". Ek beveel dit vir almal aan. 'n Lekker gemaklike atmosfeer met heerlike boerekos. Met die instap betaal jy vir jou buffet ete en word na jou tafel aangewys. Die tafels is ronde hout blaaie met boom stompe as stoele. Jy help jouself met drankies by die kontantkroeg. So as jy klaar geeët het kan jy net opstaan en gaan. Niks om af te handel nie. Die vloer is bedek met klippetjies en by jou is die uitsig van die see. Ongelukkig het dit gereen daai dag, en Marli wou so graag buite gaan speel.

Die kos was bedien in groot swart potte, en daar was als van krummelpap tot afval om van te kies. Braaivleis, soet patats en vars plaasbrood met tuisgemaakte botter en konfyt het beslis my mond laat water. En om af te sluit, koeksusters en melktert met regte moerkoffie wat op die koolstofie staan en prut. Mmmmmmm....ek het lekker geeët.

Boesmanland het sy eie vermaak ook. Twee Kaapenaars het met hulle kitare die tafels omgegaan en vir almal gesing. Toe hulle by ons tafel kom, het hull een van my gunsteling kaapse liedere gesing..."Dis 'n lekker ou Jan". Ons het dit verskriklik geniet en weereens het die Dodds-bloed deurgeslaan by Marli, want sy het lekker gedans op hulle musiek.


Maandag is ons deur V&A Waterfront toe en het die Two Oceans Aquarium besoek. Dit is so lekker om die klein gesiggies te sien staar na die vreemde dinge wat hul nog nooit vantevore gesien het nie. Als is nuut. Ons vergeet dit soms. Mens wil net aanhou verby alles stap, maar vir 'n kleintje is alles wat hy toekom nuut en vreemd en hulle wil ondersoek instel. Ons moet soms leer om bietjie geduldig te wees.


Na die Aquarium is ons op die enigste werkende stoombootjie in die hawe rond. Die kaptein was baie aangenaam en vermakerig. Hy maak die rit die moeite werd.


Die res van die kort kuiertjie was ons maar net by die huis, want die Kaapse weer het nie dit toegelaat dat mens buite-muurse aktiwiteite mag doen nie. Maar die kuiertje was heerlik gewees, lekker om jou mense by jou te he en dit was vir ons lekker om te sien hoe ouma en oupa hul kleinkind geniet.  Dankie ma en pa vir die kuiertje en vir al julle liefde en omgee. Ons waardeer dit. Lief julle baie!