1 Maart 2011. My verjaarsdag en eerste dag van werk na 4 maande se kraamverlof. Toe ek die oggend my oë oop maak, toe is ek al huilerig. My mooie Marli moet vandag na haar dagmoeder (Puddle Duck) toe gaan. Ek is so gewoond om haar om my te hê heeldag, dat dit net nie vir my reg voel dat ek haar eers 9 ure later gaan sien nie. Dis nie regverdig nie. Hulle gaan nou al die mooi van haar kry. Sy word omtrent eers wakker teen die tyd dat ons moet ry, en wanneer ons haar gaan haal, dan is dit amper alweer bad en slaap tyd. Ek gaan nie meer die voorreg he om my eie kind groot te maak nie. Arme Marli, sal sy verstaan wat aangaan. Hoekom daar nou ewe skielik ander tannies na haar kyk deur die dag? Waar is haar ma? En ek dink: "Sal hulle haar vertroetel en oppas soos ek sou? Sal hulle haar optel as sy huil? Sal hulle geduld hê met haar? Sal dit goed gaan met my kind?" Marli het ook geweier om enigsins bottel by my te aanvaar, so dit sou ook die dag wees dat hulle haar op die bottel probeer kry. Ek het net gebid en hoop dit sal goed gaan. Dat Marli nie te lank sou huil of dors ly voordat sy die bottel aanvaar nie.
Dit was niks lekker om my baba daar af te gee nie. Veral nie toe ek haar hoor huil toe ons uitstap nie. Ek moes maar net omdraai en loop, andersins sou ek nie daar wou weg gaan nie. Collin het bestuur, want ek het die hele pad van daar tot by die werk gehuil. Selfs by die werk, toe ek instap, was hulle al besig met Godsdiens en ek plaas my toe op 'n stoel eenkant neer en staar weg van hulle af by 'n venster uit terwyl die trane soos riviere by my wange af loop. Hoe sou ek ooit hierdie dag deurmaak. Natuurlik was my konsentrasie nie by die werk daai dag nie, eerder het ek die minute af getel todat ons haar kon gaan haal. Collin sou my 5 uur kom oplaai. 5 Uur het gekom en toe ek by die motor inklim, toe se ek vir Collin dat dit net nie reg voel om haar motor-stoeltjie te sien en sy is nie daar nie. Collin wys net sy oë na agter en toe ek omkyk, sien ek haar tone uitsteek by die stoel. MY KIND!!! Ek storm om en pluk die agter deur oop en soen haar op en af terwyl die trane van voor af oor my wange vloei, maar die keer van blydskap.
Dit het gelukkig by die dag makliker geword om vir Marli te laat gaan, alhoewel ek haar maar nogsteeds baie verlang deur die dag. Veral as ek na haar foto staar op my lessenaar. Marli het uiteindelik na 'n week se geduldige aandag die bottel aanvaar as metode van voeding. Maar sy is nie dom nie hoor! Sy aanvaar die bottel by die dagmoeder, maar by die huis soek sy haar ma en niks anders nie. Klein, klein al veels te slim.