Thursday 5 July 2012

Ouma en Oupa se kuiertjie in die Kaap

Ouma en oupa Prinsloo het kom kuier, en die wat kinders het sal weet, dat die eerste kleinkind alles is. Die kuiertje het regtig gegaan om die baba en nie om die res nie he he. Skoonma het ons koskaste vir ons weer mooi kom volmaak met alles van Biltong en droëwors tot beskuit en suurlemoensap. Dankie ma!

Skoonma het toe sy my vroër die week gebel het, gesê dat Marli tussen hulle gaan slaap. Ek het nie gedink hulle sou dit kon uithou nie, want Marli hou niks van 'n kombers oor haar nie, en nog minder dat daar aan haar geklou word, maar wonder bo wonder het hulle dit die hele week uitgehou.

Marli het nie te lank terug mangelonsteking gehad, en het nogsteeds nie baie goed geëet nie, met die gevolg dat sy in die nag wakker geword het vir haar bottel, net mooi die tyd toe ouma en oupa kom kuier het. Shame, skoonma het 'n stukkie van haar verlede sien weerspieël toe sy ewe skielik in die in die middel van die nag weer moes opstaan om vir 'n baba 'n bottel te maak.

Saterdag het ons vir die dag uitgegaan Paternoster toe en oorgeslaap by Paters Haven. Nou vir die van julle wat nog nie in Paternoster was nie, dit is my ma se gunsteling plek en een van myne ook, omdat dit so stil en rustig daar is. Dis nog een van die min regte visserman dorpies soos die waarvan jy altyd in die storieboeke gelees het. Jy is weg van die stad en sy geraas, jy het die mooi oseaan voor jou en die wit Kaapse huisjes net waar jou oog dit kan sien. As jy lekker vis wil eet, is dit die plek daarvoor.


Tietiesbaai lê ook baie naby aan Paternoster, en ons het gou die middag daar 'n draai gaan maak en op die strand gaan loop. Marli en ouma het lekker op die strand gespeel, en natuurlik het sy net op oupa se skoot gesit as ons gery het.


Sondag is ons Langebaan om terug huis toe, en het vir middagete gestop by die "BOESMANLAND PLAASKOMBUIS". Ek beveel dit vir almal aan. 'n Lekker gemaklike atmosfeer met heerlike boerekos. Met die instap betaal jy vir jou buffet ete en word na jou tafel aangewys. Die tafels is ronde hout blaaie met boom stompe as stoele. Jy help jouself met drankies by die kontantkroeg. So as jy klaar geeët het kan jy net opstaan en gaan. Niks om af te handel nie. Die vloer is bedek met klippetjies en by jou is die uitsig van die see. Ongelukkig het dit gereen daai dag, en Marli wou so graag buite gaan speel.

Die kos was bedien in groot swart potte, en daar was als van krummelpap tot afval om van te kies. Braaivleis, soet patats en vars plaasbrood met tuisgemaakte botter en konfyt het beslis my mond laat water. En om af te sluit, koeksusters en melktert met regte moerkoffie wat op die koolstofie staan en prut. Mmmmmmm....ek het lekker geeët.

Boesmanland het sy eie vermaak ook. Twee Kaapenaars het met hulle kitare die tafels omgegaan en vir almal gesing. Toe hulle by ons tafel kom, het hull een van my gunsteling kaapse liedere gesing..."Dis 'n lekker ou Jan". Ons het dit verskriklik geniet en weereens het die Dodds-bloed deurgeslaan by Marli, want sy het lekker gedans op hulle musiek.


Maandag is ons deur V&A Waterfront toe en het die Two Oceans Aquarium besoek. Dit is so lekker om die klein gesiggies te sien staar na die vreemde dinge wat hul nog nooit vantevore gesien het nie. Als is nuut. Ons vergeet dit soms. Mens wil net aanhou verby alles stap, maar vir 'n kleintje is alles wat hy toekom nuut en vreemd en hulle wil ondersoek instel. Ons moet soms leer om bietjie geduldig te wees.


Na die Aquarium is ons op die enigste werkende stoombootjie in die hawe rond. Die kaptein was baie aangenaam en vermakerig. Hy maak die rit die moeite werd.


Die res van die kort kuiertjie was ons maar net by die huis, want die Kaapse weer het nie dit toegelaat dat mens buite-muurse aktiwiteite mag doen nie. Maar die kuiertje was heerlik gewees, lekker om jou mense by jou te he en dit was vir ons lekker om te sien hoe ouma en oupa hul kleinkind geniet.  Dankie ma en pa vir die kuiertje en vir al julle liefde en omgee. Ons waardeer dit. Lief julle baie!