Friday 4 November 2011

Hoera! Marli het begin kruip...

Die lang afgewagte dag het aangebreek, Marli het begin kruip! (Dankie tog, ek het nie vernie daai "knee-pads" gekoop vir die kruip nie). Nou sal ons haar goed moet dophou, want so bly as wat ons is dat sy begin kruip het, begin die regte moeilikheid nou. Niks is meer veilig as Marli in die omtrek is nie. 
Hier is 'n kort video wat ek gisteraand geneem het van Marli in kruip aksie. (Jammer vir die swak beligting, die kamera is maar nie te skerp in die aand nie. Sal later 'n beter een oplaai.)


Ek het vir Marli 'n nuwe bib bestel. Een wat haar hele bolyf toemaak tot by die bene. Want as die kos uit die mond val, dan beland dit op haar skoot en dan help die ander bibs nie veel nie. Hierdie een het nog ekstra lang moue ook nog, wat jy kan afhaal of aansit soos jy dit nodig sien. Waar was hierdie bib gewees toe ons net met vaste kossies begin het? Marli se moue was gedurig vol pampoen. In elk geval, nou behoort ons haar skoon te kan hou.




So paar dingetjies wat Marli deesdae doen of van hou:

  • Haar gunsteling vrug so ver is piesangs. Sy gryp daai piesang styf vas met haar handjie en verslind hom binne enkele minute. Klink verskriklik soos sy tekere gaan. Miskien is dit omdat dit so maklik kou, maar sy geniet dit vreeslik om piesangs te eet.
  • As Marli in die verlede verstik het, dan klop mens haar soms so agter op die ruggie. Deesdae as sy so effens verstik aan die piesang omdat sy soms van gulsigheid té groot stukke af byt, dan klop sy haarself sommer so op die borsie. Ek en Collin kon nie help om te lag toe ons dit sien nie. Ek sal bietjie kyk om 'n video daarvan ook te kry en op te laai. Sy raak net te oulik!
  • Ek en Collin is aan die stry oor watter woord sy eerste gesê het, pappa of mamma, maar sy kan altwee woorde al baie oulik sê. So ja, haar eerste woorde was pappa en mamma. So lief vir ons ou goggatjie.
Tot volgende keer!